KUBER KWETTERKAS

Kuber-Kwetterkas 1

GESONDE KOSBLIKWENKE

Gesonde middagetes en peuselhappies is belangrik vir kinders (en natuurlik ook volwassenes). Probeer om elke dag vars groente en vrugte, stysel, suiwel en proteïen by die kosblik in te sluit.

* Maak dit ’n voorneme om jou tyd beter te bestuur en te beplan – ook wanneer jy kosblikke pak. Pak dit waar moontlik die vorige aand, dan is daar nie elke oggend voor skool ’n dolle gejaag nie.

* Betrek jou kind by sy kosblik – navorsing wys hy sal dan meer geneig wees om in sy pouse daaraan te smul. Gesels met hom oor sy voorkeure maar moedig hom ook aan om nuwe smake en kombinasies (soos ’n skyfie appel gedoop in grondboontjiebotter) te toets.

* Oorskiet sorg vir uitstekende kosblikke – probeer om vanjaar doelbewus te veel kos vir aandete te maak sodat daar genoeg is vir die volgende dag se kosblik. Wend oorskiet ook kreatief aan – maak ’n voupakkie met bobotie of bak daardie ekstra pannekoekdeeg en vul met soetrissiesous en kaas.

* Belê in ’n klein koelsakkie vir jou kind se kosblik sodat kos higiënies vervoer en gebêre kan word tot pouse. Belê ook in houers van goeie gehalte wat jou kind maklik oop en toe kan maak. Vries ’n klein botteltjie water en pak dit in die koelsak – dit sal help om die kos koel te hou en yswater is mos’n heerlike lafenis op ’n warm dag.

* Onthou om ’n plastiekvurkie of teelepel in te sluit as jy slaai of jogurt inpak. ’n Servet is ook nie ’n slegte idee nie.

* As jy skielik besef jou arme bloedjie eet nou al vir ’n week Bovril-toebies, gaan snuffel op die internet – en veral die aanlyn aanspeldbord Pinterest – rond vir idees vir interessante kosblikke.

Foutlose formule

* Die helfte is groente en vrugte, soos tamatietjies of komkommer en ’n piesang of appel.

* ’n Kwart is stysel, soos ’n lae-GI-broodjie, Pro-Vita, tuisgemaakte springmielies, ’n lae-GI-muffin of baba-aartappeltjies.

* ’n Kwart is proteïene: ’n bietjie biltong, kaas, jogurt of klein frikkadelle (wat maklik vries).

* ’n Klein sirkel is gesonde vette en olies, soos neute, ’n bietjie botter of avokado op die broodjie.

Bron: http://www.netwerk24.com/Ontspan/Kos-en-Wyn/Kosblikke-met-inspirasie-en-sonder-toebroodjies-20150108

Wat gons by Wonnies? Sien ons kalender en nuusbrief Lees Meer


Facebook