Sport

WONNIES sport

  • Atletiek
  • Buitesporte
  • Bulletjierugby
  • Gholf
  • Hokkie en mini-hokkie
  • Krieket
  • BevKrieket
  • Landloop
  • Netbal en mini-netbal
  • Rugby
  • Skaak
  • Swem
  • Tennis

Atletiek

Laerskool Wonderboom se atletiekseisoen begin al vroeg in Januarie en die atletiekspan neem deel aan die Prestige 8 byeenkomste wat skole insluit soos Menlopark, Tygerpoort, Lynnwood, Skuilkrans, Stephanus Roos, Monumentpark en Elarduspark. Daar is ook ‘n top 20 byeenkoms waarin die skool deelneem en ons eindig 6de uit 24 skole. Die beste Pretoria Skool!

Ons gebruik personeel om af te rig en ons oefen Maandae, Dinsdae en Donderdae. Aflosse word in die oggend geoefen. Dit is ‘n item om te aanskou, want die Wonnies spog met ‘n 70% plus goue medaljes by elke byeenkoms.

Ons huissport Victrix Ludorum, vir die 2016-seisoen, is Lindsay Adams en ons Victor Ludorum is Rigard van Rensburg.

 

 

 

Buitesporte

Ons kinders neem deel aan allerhande sport- en kultuuraktiwiteite buite skoolverband en presteer absoluut puik! Wonnies is veelsydig. Ons hou daarvan om te spog oor ons kinders, of hul nou trampolien spring, dans, ballet, resieskarretjies jaag, taekwondo doen of selfs visvang – ons wil graag weet daarvan. Ons wens gewoonlik ons kinders in die saal geluk met hul buitemuurse prestasies. Gee asseblief die inligting by die kantoor in.

Die bemarker sal ook graag van u kind se oulike prestasies wil hoor, stuur asseblief vir haar ‘n epos na bemarking@wonwen.co.za.

Bulletjierugby

Wonnies Bulletjierugby fokus op die volgende:

  • Kinders vaardighede van rugby te leer
  • Kinders lief te maak vir die sport
  • Kinders se karakter te bou deur ‘n positiewe omgewing te skep en saam met maats te speel

Die hoofdoel van Bulletjierugby is nie om te wen nie, maar om elke oomblik te geniet. Bulletjierugby word aangebied vir kinders van O/6 tot O/8 en behels geen kontak (‘tackle’) nie, aangesien daar gebruik gemaak word van ‘rips’.

Vir meer inligting, skakel gerus vir:

Dieter Munnik
Epos: dieter.munnik@gmail.com
Sel: 082 338 9194

 

Gholf

Enige leerder (seun of dogter), wat ingeskryf is by Laerskool Wonderboom, mag deelneem. Die skool affilieer die spelers en daar is ‘n bestaande liga waaraan skole deelneem.

Daar word 4 spelers van nommer 1 tot 4, volgens hul amptelike voorgee’s, vir die span gekies. Indien daar genoeg spelers is om ‘n B-span in te skryf, kan ons dit wel doen. Daar word ook ‘n reserwespeler gekies en sal slegs speel indien daar ‘n speler is wat nie kan speel nie.

Gholf word in die 4de kwartaal gespeel, maar die proewe is reeds in die 3de kwartaal.

Die spelers oefen op hul eie en Laerskool Wonderboom maak nie voorsiening vir oefentye nie. Skakel gerus vir Dieter Snyder (Akasia Gholfklub) by 083 279 4168 vir enige navrae.

 

 

Hokkie

Ons Wonnie hokkie-bokkies is dogters wat vreesloos is en kans sien vir ‘n uitdagende sportsoort. Hokkie doen uitstekend in Wonderboom en met afrigters wat die sport goed ken, kan ons dogters met sterk tegniek hoërskool hokkie gaan aandurf!

Ons spelers oefen vanaf Februarie tot September baie hard.  Op Dinsdae en Donderdae oefen ons langs die rugbyveld. Wedstryde vind op Vrydae en Saterdae plaas en die hokkie-bokkies draf sommer twee ligas per jaar kaf. Ons eerstespan van 2015 het UITSTEKEND presteer en in die top A1 liga meegeding. Hulle het só goed presteer dat ons eerstespan vanjaar weer in die A1 liga meeding.

Wonnie-hokkie is kookwater!

Afrigters vir 2016:
O/11A: Rinel Marsh
O/11B: Melissa Smith
O/12: Marlien Klopper en Melissa Smith
Eerstes: Alida du Toit (Organiseerder)

Mini-hokkie

Die Wonnies het ook mini-hokkie vir graad 1-4 dogters wat graag hierdie uitdagende sportsoort wil bemeester. Ons is sterk op pad om ons jong bokkies te leer om fantastiese speelstertjies te word!

By Wonnies se mini-hokkie is ons doel om die basiese vaardighede vir die spelers aan te leer sowel as om ‘n liefde vir hokkie by elkeen te kweek.  Die spelers kry baie blootstelling by die rondomtalies en feestoernooie waaraan hul deelneem tydens kwartale 2 en 3. Al die nodige vaardighede word ingeoefen om sodoende die spelers met entoesiasme en selfvertroue op te stuur na die ligaspanne toe.

Wonnies se mini-hokkie is aan die brand!

Die mini-hokkie afrigters vir 2016 is:
O/7: Maryke Badenhorst
O/8A: Alicia van Zyl
O/8B: René Robbertse
O/8C: Delmi Tucker
O/9A: Marlize Potgieter
O/9B: Linrie Prinsloo
O/10A: Teresa du Plessis (Organiseerder)
O/10B: Ria Pretorius

Krieket

Krieket is ‘n “gentleman” sport by ons skool. Ons bied die geleentheid vir almal om, in die 3de en 4de kwartaal, krieket te speel. Die Wonnies het 10 spanne – ‘n A- en B-span in elke ouderdomsgroep. Ons is die enigste skool noord van die Magalies wat 2 spanne in ‘n ouerdomsgroep het. Ons speel in die hoogste liga, naamlik A1.

Kleredrag: Wit Wonnie kriekethemp, wit langbroek en Wonnie “cap” wat beskikbaar is by die Klerekas.

Prestasies in 2015:

Ons is O/11 ligawenners en speel in die semi-finaal van die Stadsbeker. Wonnies lewer ook 4 provinsiale spelers op.

Landloop

Kwartaal 2

Daar is ‘n landloopoefengroep in kwartaal 2 vir leerders wat nie aan ander wintersport deelneem nie.

Atlete maak van eie vervoer gebruik en oefeninge is Maandae, Dinsdae en Donderdae by Hoërskool Overkruin.

Kwartaal 3

Die landloopliga vind in die derde kwartaal plaas.

Alle leerders is welkom om deel te neem en daar is geen proewe nie.

Die seisoen bestaan uit 3 ligas, AGN kampioenskappe asook SA kampioenskappe.

Oefeninge is Maandae tot Donderdae en ligabyeenkomste is op Vrydae. Oefeninge vind op Hoërskool Overkruin se gronde plaas en atlete word met ‘n bus na en van die hoërskool vervoer.

Organiseerder: Me. Nicola Smit

BevKrieket

BevKrieket is internasionaal bekend en word deur van Suid-Afrika se top krieketskole beoefen. Die voormalige Noord-Transvaal Jeug Krieketdirekteur en SA 0/17-afrigter, meneer Shane Gouldie, het met dié konsep in Suid-Afrika begin.

BevKrieket is ouer gedrewe wat gewortel is in etiese waardes. Die doelwit is om reeds vanaf ‘n jong ouderdom ‘n liefde vir die spel te kweek, asook om die jong spelers die regte tegnieke, etiek en kultuur van hierdié “gentleman”-spel te leer. Laerskool Wonderboom bied vanaf 2016 BevKrieket aan. Pretsgewys word dogters en seuns vanaf graad RR tot graad 2 aan krieket blootgestel. Die reëls van BevKrieket is so ontwikkel dat dit klem op die veiligheid van die spelers lê. Die grote van die krieketveld is 20-25m radius, van die middel van die blad af.

’n Hardebal word gebruik, asook die nodige veiligheidstoerusting wat daarmee gepaard gaan. Die beraamde onkostes vir 2017 se registrasie beloop R250 per leerder. Oefentye is op Maandae en Dinsdae vanaf 18:00 tot 19:00. Die wedstryde word vir Woensdae geskeduleer om 18:00 tot 20:00. Daar kan moontlik op Saterdae ook wedstryde geskeduleer word. Gelde kan by die skool inbetaal word. Gebruik asseblief die kode: 222 met u kind se naam en van as verwysing.

Ons vertrou dat BevKrieket die nodige vertroue aan ons leerders kan gee om die spel te geniet en ook voor te berei vir krieket vir die ouderdomsgroep o/9. Ons neem deel teen Laerskole Magalieskruin en Stephanus Roos. Ons wil graag in 2017 probeer om wedstryde teen skole van die Ooste te skeduleer (meer inligting volg in die derde kwartaal).

Enige navrae kan aan Herman en Liné Rudolph gerig word.
Herman: 076 527 9616
Liné: 072 466 6607

Netbal

Wonnie-netbal is ‘n wonderlike sport vir ons dogters. Ons speel in Jubelee B-liga en met genoeg wedstryde, teen goeie kompeterende skole, kry hul absoluut geleentheid om hul tegniek te verbeter en om uitstekend te presteer op die netbalveld. Die netbaldogters speel op tartanbane, waarvan die skool vier het (op die tennisbane) en een heeltemal apart (ons spogbaan). Daar is ‘n A-, B- en C-span vir elke ouderdomsgroep vanaf O/10.

Die mini-netbal by Wonderboom is ‘n lekker manier vir ons dogters om fiks en vaardig te word en om hul voor te berei vir die “groot” netbal. Hulle speel ook wedstryde en word sodoende effektief blootgestel aan die sport. Geen spanne word by mini-netbal gekies nie en alle dogters word geakkommodeer.

Rugby

Rugby by Laerskool Wonderboom is op hoë standaard. As deel van die A-bond wyk Suid-Oos, speel ons teen die top skole in Pretoria en lewer elke jaar uitstekende resultate. Met passievolle afrigters, in samewerking met ons ouers, leer die kinders om hulself, hul eie vermoëns, spanwerk en sukses te ontdek.

Elkeen wat rugby by Laerskool Wonderboom speel, word as mens en as jong ‘gentleman’ ontwikkel wat in homself glo en sy eie oordeel leer vertrou. Ons lewer jaar na jaar Cravenweekspelers op, wat absoluut ‘n wonderlike prestasie is.

By Laerskool Wonderboom bou seuns karakter!

Skaak

Skaak floreer op twee bene by Laerskool Wonderboom. Ons het skaakoefening op Maandae en Woensdae, sowel as skaakafrigting op Maandae tot Woensdae wat deur ‘n professionale afrigter geskied.

Ons het dié jaar 10 spanne ingeskryf vir die liga. Definitief ‘n skool waarmee gereken moet word. Ons is die enigste skool met C- en D-spanne in die liga! Dit wil gedoen wees, Wonnies.

In 2015 is ons dogtersspan deur na die SA’s waar hulle ‘n algehele 4de plek behaal het. Puik individuele prestasies word jaarliks deur van ons spelers behaal.

Wonderboom wéét hoe om die regte skuiwe te maak.

Swem

Wonnies swem letterlik verby hul opponente. Ons A-span swem in die A-liga (top liga in Pretoria) en die B-span in die D-liga. Ons doen werklik wonders met die Woelwater-Wonnies! Ons is ook noord van die Berg wenners.

Ons het die volgende kriteria vir swem:

  • Uitdunne: Om voorlopige span saam te stel
  • Interhuisgala: Om finale span saam te stel

Swemmers neem deel aan 2 individuele items en 2 aflosse per gala. Itemkeuses word deur die organiseerder bepaal volgens die span se behoeftes en nie individueel nie.

Swemmers oefen tydens die swemseisoen (September en Oktober) by Deon Malherbe swembad op Maandae, Dinsdae en Donderdae.

Tennis

Tennis word in die eerste en derde kwartaal gespeel. Daar is twee ouderdomsgroepe waaraan die spelers kan deelneem naamlik O/11 en Oopspan (O/13).

Om in enige span opgeneem te word, moet spelers aan die proewe deelneem wat in die tweede en vierde kwartaal gespeel word. Daar mag wel gedaag word om ‘n beter posisie in die span te verkry. Elke span bestaan uit 4 leerders.

Ons ligawedstryde, in die eerste sowel as die derde kwartaal, word op Maandae gespeel en die spelers oefen op Woensdae by ‘n professionele afrigter wat die skool verskaf. Tuiswedstryde word op ons skoolbane of die klubbane oorkant die skool gespeel.

Die O/11 seunsspan was in die eerste kwartaal van 2015 die wenners van die stadsbeker in die D-liga. In die derde kwartaal van 2015, was een van die vier spanne wat deelgeneem het, ligawenners.  Dis voorwaar ‘n groot prestasie.

Organiseerder: Me. Jani Labuschagne

0044 (2)
0044
toets
rug_3
rug_2
rug_1

Wat gons by Wonnies? Sien ons kalender en nuusbrief LEES MEER


Facebook